Stewige Nam-afvaardiging vir COP27

Die adjunk Namibiese minister van omgewingsake, Heather Sibungo het vanoggend die afvaardiging wat die COP27-beraad tussen 6 en 18 November in Sharm El-Sheikh in Egipte gehou gaan word, bekend gemaak. Dis ‘n stewige hoeveelheid mense wat verteenwoordigers van die kantoor van die president, die ministeries van landbou, myne en energie, internasionale betrekkinge, stedelike en landelike ontwikkeling en finansies insluit. Daarbenewens is daar ook afgevaardigdes van die Nasionale Beplanningskommissie, die Omgewingsbeleggingsfonds, NamWater, NamPower, en die Ontwikkelingsbank van Namibië. Die privaatsektor sal deur Bank Windhoek en Standard Bank sowel as Triple Capital verteenwoordig word. Akademici sluit in afgevaardigdes van Unam, die Suider-Afrikaanse klimaatsentrum Sasscal, en die Namibia Nature Foundation en Nacso, wat die bewaringsgebiede verteenwoordig. Sibungo sê daar sal weer, nes in Dubai, ‘n pawiljoen wees waar temas van die beraad in interaktiewe sessies en aanbiedings aangespreek sal word.