Steeds 7 gevalle van geslagsgeweld daagliks aangemeld

Die Namibiese geslagsminister Doreen Sioka sê daar is net meer as 2 600 gevalle van geslagsgeweld in die 2020-2021 boekjaar aangeteken, teenoor die amper 5 500 wat in die vorige jaar aangemeld is. Terwyl dit ‘n noemenswaardige afname is, is daar steeds net meer as sewe gevalle daagliks. Die stand van sake word vererger deur statistieke dat net ‘n derde van die gevalle aangemeld word. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie ervaar een uit elke drie vroue fisiese- en seksuele geweld met 6 persent wat geweld tydens swangerskap ervaar het. Ongeveer 15 persent van slagoffers het nog nooit om hulp gevra nie en het ook niemand van die geweld ingelig nie.