Stakende werkers blokkeer glo ingang na Cheetah Cement

Stakende werkers van die Cheetah-sementfabriek buite Otjiwarongo is vandag gewaarsku om op te hou met hul gedrag om die ingang na die sementfabriek te blokkeer, waar hulle sedert verlede Donderdag staak. In ‘n brief wat vandag aan die werkers gerig is, het die Windhoekse regsfirma Kopper Linger Boltman Legal Practitioners, wat Cheetah Cement verteenwoordig, aangedui dat die byna 200 werkers wat by die hoof-ingang van Cheetah Cement kampeer, nie-stakende werkers keer om die perseel te betree om hul pligte uit te voer. Die werkers onder leiding van die Mynwerkersunie van Namibië is ook aangesê om op te hou om vragmotors te blokkeer wat steenkool of sement en sy produkte laai. Volgens die regsfirma het Cheetah Cement verliese van sowat 3,4 miljoen Namibiese dollar gely sedert die staking verlede Donderdag begin het. Verliese van 1,2 miljoen dollar per dag word ook verwag sou die onwettige stakingsgedrag by die hek voortduur.