Stad Windhoek steeds in penarie oor pos van uitvoerende hoof

Stad Windhoek het aangekondig dat Faniel Maanda vanaf 7 Desember vanjaar tot 7 Maart 2023 die nuwe waarnemende uitvoerende hoof van die hoofstad sal wees. Maanda is die strategiese hoof vir behuising, eiendomsbestuur en hervestiging. Hy neem die leisels oor by Jennifer Comalie wat vanaf 1 tot 6 Desember in dié pos waarneem. Stad Windhoek sit weer eens in ‘n penarie oor die pos van die uitvoerende hoof, nadat hul gunsteling-kandidaat, die uitvoerende hoof van die Padowerheid van Namibië, Conrad Lutombi, nie die aanbod aanvaar het nie. Lutombi het besluit om by die Padowerheid aan te bly, nadat sy kontrak as uitvoerende hoof met drie jaar verleng is.