SPYL-leier sal dalk verskyn na omkoop-poging

Dit is nie bekend of die assistent van ‘n minister vandag in die hof sal verskyn of nie. Die man, wat ook ‘n leier van die Swapo-jeugliga is, is gearresteer nadat hy na bewering gepoog het om ‘n lid van die Affirmative Repositioning-beweging om te koop. Volgens die Teenkorrupsie-kommissie wou die verdagte gehad het die beweging moet ‘n protesaksie teen die regbank reël om die Fishrot-verdagtes vry te laat. Die protes sou met plundery gepaard gegaan het. Die lid van die beweging Pau Pau Katanga het die kommissie in kennis gestel. Dit is nie bekend hoeveel omkoopgeld betrokke was nie en die ondersoek duur nog voort. Intussen het die Namibiese polisie ook bevestig dat vier mense deur die intelligensiediens geïdentifiseer is as deel van ‘n groep wat lede van die publiek op sosiale media aangemoedig het om te plunder. Daar word verwag dat nog persone ondervra sal word.