Sonneblom- en koring-oeste lê en vrot in die Oekraïne

Die konflik in Oos-Europa sal opwaartste druk op voedselpryse plaas, verby die huidige seisoen. Internasionale nuusagentskappe berig dat naby Odesa, ‘n hawestad in die Oekraïne, word duisende tonne swart sonneblomsaad gestoor, wat gebruik word om kookolie te maak. Die Oekraïne is die wêreld se grootste uitvoerder van saadolie. Geen verkope deur produsente is moontlik nie omdat die uitvoerroete deur die Swart-see gesluit is. Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie het die prys van plantaardige olies in Maart met 23 persent gestyg, koringpryse met 20 persent en mielies met 19,1 persent. Die Oekraïne en Rusland is groot uitvoerders van hierdie kommoditeite. Uitvoerpakhuise staan leeg en volgens berigte is daar amper 14 vragskepe in die hawe vasgekeer, elk met 400 000 ton graanoeste aan boord. Boere het ook kommer oor saadvoorrade en brandstof om die huidige plantseisoen te begin. Plaaslik styg die prys van meel, mieliemeel, brood en meer op 25 April.