Somaliese magte beëindig beleg by hotel in hoofstad

Somaliese magte het die beleg van ʼn hotel in die hoofstad, Mogadishu, beëindig wat die lewe van minstens 20 mense geëis het. Veertig mense, insluitend kinders, is in die aanval gewond. Die Al Shabaab-terreurgroep, wat aan Al Kaïda verbind word, het die Hayat-hotel Vrydagaand aangeval. Geweervuur is Saterdagaand nog gehoor terwyl veiligheidsmagte die oorblywende aanvallers verslaan het. Die aanval op die hotel is die eerste groot terreur-aanval in Mogadishu sedert Somalië se nuwe heerser, Hassan Sheikh Mohamud, in Mei die beheer oorgeneem het.