Soeklig op migrante in Suider-Afrika

Die VN het die jongste syfers, die vir 2020, oor getalle van migrante in die wêreld bekend gemaak. In Suider-Afrika het Namibië net meer as 109 000 terwyl Suid-Afrika 2,9 miljoen het. In Angola is daar 656 000, met 416 000 in Zimbabwe. Botswana het net meer as 110 000 en Mosambiek, 339 000. Oor die algemeen kan migrante voordele inhou vir lande, veral vir vaardighede en produktiwiteit maar, volgens die VN, is migrasie tussen ontwikkelende lande kommerwekkend. Die uitwerking hiervan is druk op maatskaplike instellings, verplasing van arbeiders in veral landelike gebiede, groei in die informele sektor en ‘n algemene agteruitgang in salarisstrukture. Die VN sê dat migrasie verder sal toeneem namate die ekonomiese uitdagings na die pandemie, en met die Europese oorlog, toeneem.