So smokkel jy nie staatsgeheime nie

As jy toegang tot staatsgeheime het, sou jy ‘n epos stuur na ‘n onbekende land se regering en vra dat hulle, hul staatsveiligheidsagentskap in kontak met jou sit? Nee? Dis dalk ‘n goeie besluit omdat dit nie so lekker vir ‘n senior vlootingenieur in die VSA uitgewerk het nie. Jonathan Toebbe het die epos uitgestuur en die land, wat nie bekend gemaak is nie, het onmiddellik die plaaslike FBI gekontak. ‘n Geheime operasie is saamgestel en die FBI het sover gegaan om 100 000 Amerikaanse dollar in kriptogeldeenheid aan hom oor te betaal sodat hy hulle sou glo. Toebbe het die planne vir die VSA se kernduikbote op ‘n geheuekaart geplaas en in ‘n grondboontjiebotter toebroodjie versteek. Sy vrou, Diana, het ogie oor die oorhandiging gehou en albei is gearresteer. Hulle sal môre in die hof in Wes-Virginia verskyn op verskeie klagte.