SME Bank – miljoene moet betaal word

Die saak waar Ian Mc Claren in sy kapasiteit as likwidateur van die SME Bank vir net meer as 247 miljoen Namibiese dollar die bestuur van die bankrot bank dagvaar, kom vandag voor regter Shafimana Ueitele voor om verhoordatums te bepaal. ‘n Skikking van 140 miljoen Namibiese dollar is reeds onderteken tussen McClaren en vyf van die sewe respondente wat Enock Kamushinda, Crown Finance Corporation, Heritage Investment Holdings, Tawanda Mumvuma en Chiedza Goromonzi insluit. Twee respondente Joseph Banda en Lyndon Gaidzanwa verdeidig die aansoek en sal ‘n verhoor trotseer. Die likwidateurs van die bank, Ian McClaren en Dave Bruni, dagvaar Kamushinda, destyds die adjunk-voorsitter van die bank se raad, en die ander, vir die bedrag omdat dit die totale vermiste miljoene van die SME Bank is. Kamushinda het vroeër sy aansoek om die likwidasie van die SME Bank ter syde te stel, teruggetrek. McClaren en Bruni ondersoek wat beskryf word as grootskaalse diefstal en het ook reeds toestemming gekry om hofaansoeke in beide Zimbabwe en Suid-Afrika te bring.