Skokkende koste van stropery, veediefstal, onthul

Die miljoene wat boere in Namibië moet opdok as gevolg van veediefstal grens volgens die president van die Namibiese Landbou-unie aan ekonomiese sabotasie en vereis drastiese optrede. Luidens ‘n studie wat deur Nust en die Universiteit van die Vrystaat uitgevoer is het boere verlede jaar 14,7 miljoen Namibiese dollar aan veediefstal verloor, 22,5 miljoen dollar as gevolg van roofdiere, asook 9,4 miljoen dollar aan gesteelde infrastruktuur op plase. Tussen 2015 en 2020 het boere 217,5 miljoen dollar opgedok vir verliese aan vee- en wild. Die verliese is gely weens diefstal en roofdiere, mens-dier-konflik asook die gepaardgaande teenstropingsmaatreëls. Vir beheermaatreëls is 12,2 miljoen dollar teen diefstal bestee, en ’n bykomende 6,4 miljoen dollar om roofdiere weg van vee te hou. Wildstropery het in 2021 vir landbouers ’n verlies van 17,7 miljoen dollar beteken, terwyl hulle 10,3 miljoen moes betaal om stropery te probeer bekamp. Skade as gevolg van mens-dier-konflik het nog 7,9 miljoen dollar beloop, terwyl voorkomingsmaatreëls teen mens-dier-konflik boere ’n verdere 6 miljoen dollar uit die sak gejaag het.