Sitrusbedryf in Namibië brei uit

Namibië het die potensiaal om een van die voorste sitrusproduserende lande in die wêreld word met die einddoel om 600 000 ton vrugte jaarliks uit te voer. Dit is volgens André Neethling, die tussentydse voorsitter van die onlangs gestigte Namibiese Sitrusvereniging. Tans word 4 500 ton sitrus jaarliks in Namibië verbruik waarvan 7 persent plaaslik geproduseer word met die res wat hoofsaaklik uit Suid-Afrika ingevoer word. Neethling sê ‘n hele klomp boere het reeds begin met die voorbereiding van grond vir die vestiging van sitrusboorde, sommiges tot so groot as 100 hektaar. Vir toekomstige bemarking word Tsumeb as die hoofsentrum oorweeg. Daar is ook planne vir ‘n ‘droë hawe’ in die mieliedriehoek met ondersoeke na bergings- en verkoelingsgeriewe by Namport.