Sisa tree teen NBC vir Napwu op

Die openbare werkers vakbond Napwu, het volgens berigte vir Sisa Namandje aangestel om die nasionale uitsaaier te dwing om kontrakwerkers vas aan te stel. Dit volg na die uitgerekte mislukte staking laat in April en Mei vanjaar. Die vakbond sê hy het al sy verpligtinge teenoor die nasionale uitsaaier ingevolge hulle September 2011 ooreenkoms nagekom maar die uitsaaier het nie. Die NBC het vroeër aan Napwu te kenne gegee dat hy nie meer die meerderheid lidmaatskap by die uitsaaier het nie en indien die stand van sake nie verander nie, sal die September ooreenkoms verval. Talle lede het die vakbond verlaat en aangesluit by die ander openbare werkers unie, die PSUN. Napwu het net meer as 45 persent lidmaatskap oor by die NBC.