Shiimi sal in die Noorde konsulteer oor begroting

Die Namibiese finansminister Ipumbu Shiimi se konsultasies in verband met die middeltermyn-begroting duur voort. Shiimi het reeds vergader met rolspelers en belanghebbendes in die Khomas-streek en sal volgende die noordelike streke besoek. Die vergaderings poog om nasionale doelwitte soos vervat in die nasionale ontwikkelingsplanne, Harambee, en meer, met plaaslike uitdagings te versoen, veral waarin belê moet word. Beleid wat beleggings bevorder of verhoed kom normaalweg ook onder die loep. Kenners meen die tipe van konsultasies maak die begroting meer deursigtig en hou sy bepalings in aanraking met dit wat op grondvlak plaasvind.