Shifeta sê alles sal gedoen word om die Adjovi-miljoene terug te kry

Die Namibiese omgewingsminister Pohamba Shifeta sê hy sal bystand van Interpol aanvra om te verseker dat die 23,5 miljoen Namibiese dollar wat die omstrede Afrika-sakeman Ernst Adjovi die Namibiese Toerismeraad skuld, betaal. Die fondse is reeds in 2016 oorbetaal vir die sogenaamde Kora-musiektoekennings wat nooit plaasgevind het nie. Die raad het die fondse toegestaan vir die bemarking van Namibië as toerisme-bestemming maar is genoodsaak om die hoërhof te nader om terugbetaling te kry. Regter Herman Oosthuizen het op 20 Januarie vanjaar beslis dat Adjovi, wat ‘n persoonlike vriend van President Hage Geingob is, die geld moet terugbetaal. Shifeta sê Adjovi se regsverteenwoordigers het wel onderneem om die geld te betaal maar, hulle vertraag volgens hom die proses. Hy voeg by dat hy wel ‘n kriminele saak teen Adjovi kan maak wat bystand van Interpol sal bewerkstellig.