Seuntjie in sak op stortingsterrein gevind na dronk ouers hom by sjebeen vergeet

‘n Saak van kindermishandeling word teen die ouers van ‘n drie-jarige seuntjie van Donkerhoek by Mariental ondersoek. Na bewering het die 41-jarige ma en 35-jarige pa saam met hul seuntjie na ‘n sjebeen gegaan waar hulle tuisgegebroude gemmerbier gedrink het. Die seun het soos gewoonlik met ander kinders gespeel en nadat die ouers dronk geword het, is hulle sonder die kind huis toe, lui die Namibiese polisie se misdaadverslag. Die aand het ‘n verbyganger ‘n kind by die nabygeleë stortingsterrein hoor huil en by nadere ondersoek is die seuntjie in ‘n toe Top Score-sak gevind. Die slagoffer is deur die verpleegsters ondersoek en is in goeie gesondheid. Die ouers is opgespoor, maar was erg besope. Dit is in dié stadium onbekend hoe die slagoffer in die sak en by die stortingsterrein beland het, maar die saak word verder ondersoek.