Ses dood in skietery in Kalifornië, geen verdagtes nie

Die polisie in Sacramento in Amerika het die publiek gevra om met inligting na vore te kom oor die aanvallers in gister se massa-skietery in dié stad in Kalifornië. Ses mense is dood en 12 gewond toe talle aanvallers blykbaar lukraak begin skiet het. Die slagoffers is drie mans en drie vroue. Die stad se polisiehoof, Katherine Lester, het op ‘n nuuskonferensie gesê ‘n groot bakleiery het blykbaar net voor die skietery uitgebreek en ‘n klomp mense was skynbaar betrokke by die aanvalle. Die polisie ondervra ooggetuies as deel van die ondersoek.