Schneider se forum steek 75 persent belegging verby

Die voorsitter van die Beesvleis Waardekettingsforum, Mecki Schneider, sê 39 produsente het op die eerste dag van die nuwe beleggingsvenster, 19 Augustus, ‘n verdere 12,258 miljoen Namibiese dollar belê. Die huidige venster is oop tot 9 September. Tot op hede, het die forum 158,3 miljoen dollar ingevorder. Volgens Schneider het die forum nou die belangrike 75 persent merk vir produsent-besit verbygesteek wat volgens hom uiters belangrik is. Schneider en sy beleggers en sakevennote wil deur middel van Savanna Beef Processors ‘n nuwe verslagtingsaanleg op die been bring wat waarde toevoeg aan plaaslike beesvleis voor dit uitgevoer word. Op die oomblik voer Namibië net grootmaat snitte uit en al die verwerking word deur maatskappy in Brittanje en die EU gedoen, voor die produk ten duurste verkoop word.