Scenic Air spreek sy medelye oor ongeluk uit

Scenic Air het by monde van sy besturende direkteur, Michael Böttger, sy medelye uitgespreek aan die naasbestaandes van die slagoffers van Dinsdag se vliegtuigongeluk by Impalila-eiland in die Zambezi-streek. Hy het bevestig dat hul Cessna-vliegtuig wat pas na opstyging in die Zambezi-rivier neergestort het, op pad was na Rundu. Al vyf mense aan boord, die jong Suid-Afrikaanse vlieënier, Nicole Mienie, en die Duitse Rings-gesin van vier lede, is dood. Böttger sê die oorsaak van die ongeluk bly onbekend totdat die direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke die ondersoek afgehandel het.