Sassa kom om begunstigdes plaaslik te hersien

Media aan die kus berig dat ‘n hersieningspan van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid, bekend as Sassa, Walvisbaai aan die einde van die maand sal besoek. Die agentskap het reeds in Suid-Afrika sy hersiening van sy begunstigdes voltooi. Daar is plaaslik 579 begunstigdes waarvan 59 ongeskiktheidstoelaes ontvang met 520 vir ouer persone. Van die groep is 172 ouer as 75 jaar. Die agentskap sê daar is persone wat Namibiese burgerskap ontvang het en reeds voordeel trek uit Namibiese toelaes. In die buurland word dubbele burgerskap ook nie toegelaat nie. Verder, persone wat nie Suid-Afrikaans is nie, kan nie Sassa toelaes ontvang nie. Die hersieningsproses begin op 28 Februarie en duur tot 22 Maart.