SAOG verwerp VSA se beoogde sanksies teen Afrikalande wat pro-Rusland is

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap sê Amerika se voorgenome sanksies teen Afrikalande wat met Rusland handel dryf, is verwerplik en onnodig. Amerika se Huis van Verteenwoordigers het die Wet op die Bestryding van Kwaadwillige Russiese Bedrywighede in Afrika voorgestel, wat optrede vervat teen Afrikalande wat met Rusland saamwerk. Lede van die SAOG het op sy onlangse beraad ‘n verklaring uitgereik waarin hulle Amerika se plan veroordeel om die vasteland deur middel van wetgewing te straf.