Namibiese arbeidsministerie gryp weer in by Cheetah Cement

Die Namibiese arbeidsministerie het sementmyn-produksie-ure by die Cheetah-sementfabriek buite Otjiwarongo verminder. In ‘n kennisgewing wat deur die ministerie uitgereik is, is Cheetah Cement beveel om werk vanaf ses-uur die aand tot ses-uur soggens by die mynperseel te staak weens onvoldoende ligte op die terrein. Die kennisgewing dui verder aan dat die mynperseel ‘n gesondheids- en veiligheidsrisiko vir werkers is weens die swak beligting daar. Alle werk met vurkhysers binne die fabriek is ook gestaak. Die bestuurder van die fabriek, Kevin Lee, is na bewering tans in Botswana. Dit is die tweede keer wat die arbeidsministerie sementprodusie by die fabriek sluit weens veiligheids- en gesondheidsrisiko’s vir werkers. In Mei was die fabriek vir 11 dae gesluit.