SAOG het vordering gemaak met veiligheid, sekuriteit

Die Namibiese adjunkminister van veiligheid en sekuriteit, Daniel Kashikola, sê die Suider-Afrikaanse Streekspolisiehoofde Koördinerings-organisasie het aansienlike vordering gemaak met samewerking en die bevordering van gesamentlike strategieë in die bestuur van alle vorme van oorgrens- en verwante misdade in die SAOG-streek. Hy sê oorgrens-misdaad het ‘n impak op die streek, daarom is samewerking en gesamentlike betrokkenheid nodig vir die groei van ‘n kennisbasis om oorgrens-misdaad te bekamp. Die koördineerder en hoof van die Interpol-streeksburo vir Suider-Afrika, Sello Moerane, het in Windhoek tydens die buitengewone vergadering van dié SAOG-organisasie se komitee vir veiligheid en sekuriteit ‘n beroep op SAOG se nasionale polisie-agentskappe gedoen om vinnig op te tree en die komplekse dinamika waarby kriminele netwerke betrokke is te ontsyfer en misdaadsindikate vas te vat.