SANW voorbereid op groter veiligheidsbedreigings vir Eskom

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sê hy is deeglik bewus daarvan dat die veiligheidsbedreiging vir Eskom-kragstasies na ander provinsies kan uitbrei. Ongeveer 200 weermag-lede is by vier kragstasies in Mpumalanga ontplooi om kritieke infrastruktuur te beskerm. Die SANW-woordvoerder, Andries Mahapa, sê die hoeveelheid personeel wat ontplooi word, hang af van die intelligensie-inligting wat hulle daagliks ontvang. Hy sê hoewel hulle hoop om die situasie onder beheer te hou, is die weermag paraat en nie blind vir moontlike bedreigings in ander provinsies nie. Intussen het Eskom beurtkrag tot fase 2 verlaag tot vieruur vanmiddag. Dit sal dan opgeskort word tot om vyfuur Maandagoggend, wanneer fase twee hervat sal word.