Pous Benedictus (95) sterf in klooster in Vatikaan

Die 95-jarige pous Benedictus die sestiende is vanoggend in ‘n klooster in die Vatikaan dood. Dit volg nadat pous Franciskus vir dae lank vir spesiale gebede vir sy voorganger gevra het wat baie siek was. Emiritus pous Benedictus het sedert sy bedanking in 2013 in ʼn voormalige klooster in die Vatikaan se tuine gewoon. Hy was op 19 April 2005 die eerste Duitse pous wat in ‘n duisend jaar verkies is. Hy het pous Johannes Paulus die tweede opgevolg, wat 27 jaar lank regeer het. Pous Benedictus was die eerste pous in 600 jaar wat bedank het en hy het ‘n Katolieke Kerk agterlaat wat deur seksuele misbruik-skandale geteister is. Ander bekendes se sterftes is die Amerikaanse televisienuus-pionier, die 93-jarige Barbara Walters, asook die Afrikaanse skrywer, dramaturg en radio-veteraan, Dolf van Niekerk, ook 93.