SANW besorg oor berigte van aanstelling van vloothoof

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het met besorgdheid kennis geneem van vals sosiale mediaberigte wat beweer die adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Vloot, Monde Lobese, is as hoof van die vloot aangestel. Die hoof van die SANW, Rudzani Maphwanya, bevestig geen aanstelling is gemaak nie en lede van die media sal verwittig word sodra ‘n nuwe hoof aangestel is. Die woordvoerder van die Nasionale Weermag, Sam Khasuli, maan burgers om nie op loop te gaan met vals nuus nie maar om eerder hulle amptelike kommunikasie te vertrou.