Saftu dreig om te staak na verhoging van 3% verwerp is

Staatsamptenare wat lid is van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde dreig om te staak nadat hulle ‘n loonverhoging van drie persent verwerp het. Saftu, asook die Suid-Afrikaanse Polisie-unie en die Nasionale Unie vir die Staatsdiens en Verwante Werkers, dring aan op ‘n verhoging van agt persent. Die vakbonde wys ook die aanbod van ‘n nie-pensioendraende gratifikasie van die hand. Zwelinzima Vavi van Saftu, sê indien hulle die aanbod aanvaar, sal werkers vir drie agtereenvolgende jare geen behoorlike verhogings op hul lone en pensioene hê nie.