Al-Shabaab-aanval: 18 dood in Somalië

Al-Shabaab het ten minste 18 mense doodgemaak en vragmotors met noodvoedsel vernietig in ‘n aanval in Somalië se sentrale streek. Die Islamitiese groep het die aanval in die Hiran-gebied in die semi-outonome staat Hirshabelle in sentraal-Somalië geloods. Die vragmotors het voedselvoorraad van die Stad Baladweyne na Mahas vervoer. Volgens die staatsnuusagentskap het Al-Shabaab vragmotors verbrand wat noodvoedsel na Mahas vervoer het, en die meeste van die mense aan boord van die voertuie doodgemaak. Dié Islamitiese groep met bande met Al-Kaïda, veg al meer as ‘n dekade teen Somalië se sentrale regering.