‘Sabotasie’ lê Duitse treindiens lam

Kabels wat noodsaaklik is vir die spoornetwerk in Duitsland is opsetlik op twee plekke gesny, wat ‘n byna drie uur lange stilstand veroorsaak het vir alle spoorverkeer in die noorde van die land. Owerhede beskryf dit as ‘n daad van sabotasie. Die federale polisie ondersoek die voorval. Die ontwrigting het kommer in Navo-lande laat onstaan en die EU het weer beklemtoon dat dit uiters belangrik is om kritieke infrastruktuur te beskerm ná wat beskryf word as sabotasie op die Nord Stream-gaspypleidings. Daar word berig dat daar ‘n verskeidenheid moontlike oorsake kan wees, wat wissel van kabeldiefstal – wat gereeld voorkom – tot ’n geteikende aanval.