SA weermag by kragstasies ontplooi

Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa het soldate ontplooi by verskeie Eskom-kragsentrales regoor die land. Dit volg op vrese vir sabotasie, aangesien die land die afgelope paar dae fase 6-beurtkrag verduur het. Daar is berigte dat sommige kragstasies doelbewus beskadig is terwyl sommige kontrakteurs swak kwaliteit steenkool verskaf het wat ook die masjiene beskadig. Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, het by die ANC se 55ste nasionale verkiesingskonferensie gesê die vlak van misdadigheid wat by kragsentrales plaasvind, het hulle geen ander keuse gelaat as om sekuriteit te verhoog nie. Volgens Magwenya is ‘n minimum van tien soldate by die vier kragstasies van Tutuka, Camden, Majuba en Grootvlei ontplooi en nog soldate sal na ander kragstasies gaan om dit te beveilig.