Namibiese en internasionale jagsektor voer opdraande stryd teen anti-jagters

Die Namibiese en internasionale jagsektor voer ‘n groot stryd teen organisasies wat teen trofeejag gekant is. Die Namibiese Professionele Jagtersvereniging, Napha, het nóg ‘n groot terugslag beleef met Finland wat ‘n verbod op in die invoer van jagtrofeë aangekondig het. Finland gaan sy jagters verbied om trofeë van bedreigde spesies vanaf Junie 2023 huis toe te bring. Die president van Napha, Axel Cramer, sê Finland en die ander Skandinawiese lande het ‘n groot jag-kultuur en sulke besluite kan wel oorspoel na die ander lande toe. Jens Hogh van die Nordiese Jagklub, verduidelik aan Kosmos 94.1 Nuus hoe openbare opinie oor jag in Europa verander probeer word.