SA Reserwebank kondig vandag nuwe repokoers aan

Vandag gaan waarskynlik ‘n slegte dag vir mense se finansies wees. Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee sal na verwagting ‘n verhoging van 50 basispunte in rentekoerse aankondig. Vyftien van die 20 ekonome in ‘n Bloomberg-opname voorspel ‘n verhoging van ‘n halwe-persentasiepunt, met die res ‘n kleiner 25 basispunt-verhoging. Dit sal die prima-uitleenkoers tot 8,25-persent verhoog. Die jongste inligting toon inflasie was in April bestendig op 5,9-persent. Verbruikers kan hulle intussen ook gereed maak vir ‘n skerp styging in brandstofpryse volgende maand.