SA-geweld… daar gaan die rand

Die Suid-Afrikaanse rand het tot sy laagste vlak in twee maande teen die dollar gesak sedert gewelddadige betogings uitgebreek het nadat oudpresident Jacob Zuma Vrydag tronk toe is. Die Suid-Afrikaanse geldeenheid het met sowat 1,4 persent gedaal tot 14 rand 47 sent teen die dollar, wat die swakste is sedert die einde van April. Kenners sê dit kniehalter die ekonomie wat reeds sukkel as gevolg van inperkings wat deur die koronaviruspandemie veroorsaak is. Talle ondernemings, veral in KwaZulu-Natal en Gauteng, is geplunder terwyl ander hulle deure moes sluit.