SA belasting knou verbruikers

‘n Verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut toon die Suid-Afrikaanse belastingstelsel verlam die ekonomie, ondanks ‘n BTW-koers van 15-persent wat goed vergelyk met wêreldstandaarde. Die verslag wys op hoë belasting op verskeie gebiede, wat min besteebare inkomste laat. ʼn Navorser van die instituut, Theuns du Buisson, sê die stelsel beskik nie oor die buigsaamheid wat in baie Europese lande gesien word nie, en BTW het ʼn buitensporige uitwerking op minder gegoedes. Hy meen belasting verswak verbruikersbesteding, met meer as 50 persent wat uiteindelik in die staatskoffers beland. Solidariteit waarsku teen enige verdere BTW-verhogings op reeds swaarbelaste burgers.