Rusland skort graanuitvoer-ooreenkoms op

Rusland het sy deelname aan ‘n VN-bemiddelde Swartsee-graanooreenkoms opgeskort ná 16 hommeltuigaanvalle op sy vloot in die Krim. Die Kremlin sê Britse hommeltuie is deur Oekraïnse magte gebruik vir die aanval. Amerikaanse President Joe Biden het die stap as verregaande veroordeel en sê dit sal hongersnood veroorsaak. Die opskorting sal die uitvoer van Oekraïense graan uit sy belangrike Swartsee-hawens stuit. Rusland sê volgens berigte die uitvoere van graan het na ryk lande gegaan en hy sal 500 000 metrieke ton graan skenk aan arm lande waar daar tekorte is. Die Kremlin sê ook die ooreenkoms is onregverdig omdat hy nie sy kunsmis mag uitvoer nie. Nege miljoen ton graan is sedert die ooreenkoms op 22 Julie vanjaar onderteken is, uitgevoer.