Rusland se Lavrov stap uit G20-beraad 

Rusland se voorste diplomaat het vandag in Indonesië by die G20-vergadering vir ministers van buitelandse sake uitgestorm toe Westerse moondhede Moskou oor sy inval in Oekraïne gekritiseer het. Die minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, is agter geslote deure gekonfronteer met wat sy Amerikaanse eweknie, Antony Blinken, ‘n spervuur van Westerse kritiek noem. Lavrov het by ‘n oggendsitting uitgestap toe sy Duitse eweknie, Annalena Baerbock, Moskou oor die oorlog gekritiseer het. Hy het ook ‘n middagsitting verlaat voordat die Oekraïnse minister van buitelandse sake, Dmytro Kuleba, die vergadering virtueel toegespreek het, en was nie teenwoordig toe Blinken Rusland veroordeel het nie.