Rusland sê G7 se olieperkprys is onaanvaarbaar

Rusland aanvaar nie die nuwe perk op die prys wat G7-lande op Russiese ru-olie geplaas het nie. Dmitri Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het bevestig Moskou beskou die perk as onaanvaarbaar en sal hierop reageer. Janet Yellen, sekretaris van die Amerikaanse tesourie, sê die prysperk sal dadelik Russiese President Vladimir Putin se belangrikste bron van inkomste verlaag. Die perk keer lande om meer as 60 Amerikaanse dollar vir ‘n vat Russiese ru-olie wat per see vervoer word, te betaal. Dit is geskeduleer om binnekort in werking te tree. Lae- en medium-inkomste-lande wat swaar geraak is deur hoë energie- en kospryse, sal veral voordeel trek uit die perk.