Rusland se aantygings oor radioaktiewe bom word verwerp

Amerika se minister van buitelandse sake, Antony Blinken, sê hulle verwerp Rusland se ooglopende vals bewering dat Oekraïne ‘n radioaktiewe of sogenaamde vuil bom in sy eie gebied wil gebruik. ‘n Vuil bom is ‘n gewone bom wat ook radioaktiewe materiaal bevat. Volgens berigte is daar geen bewyse dat Oekraïne, wat sy kernwapens in die 1990’s vernietig het, enige radioaktiewe materiaal in sy militêre arsenaal het nie. Blinken sê die wêreld sal deur enige poging van Rusland sien as hy hierdie bewering as voorwendsel vir ‘n verskerping van sy inval wil gebruik.