Rushdie herstel goed, getuies in saak moet beskerm word

Aanklaers in New York het die hof gevra om die name van getuies te weerhou in die saak van die man wat daarvan beskuldig word dat hy die skrywer Salman Rushdie 15 keer met ‘n mes aangeval het. Tydens Vrydag se hofverskyning deur beskuldigde Hadi Matar, het aanklaer Jason Schmidt versoek dat ‘n beskermingsbevel vir die getuies uitgereik word en hy het ook gevra vir ‘n bykomende 70 dae om getuienis aan die verdediging voor te lê. Hy sê sy versoek spruit uit die meer as 30 000 lêers van bewyse wat sy kantoor ontvang het. Matar is op 12 Augustus in hegtenis geneem na die aanval, en het op 18 Augustus onskuldig gepleit op klagte van tweedegraadse poging tot moord en tweedegraadse aanranding. Hy bly in aanhouding. Rushdie, wat steeds gehospitaliseer is, het verskeie operasies ondergaan en herstel goed.