Rooilyn-saak: Amupanda was aspris met sy vleis by Oshivelo

Die landbouminister Calle Schlettwein, sê die leier van die Affirmative Repositioning-beweging Job Amupanda, het die omstandighede vir sy regsaksie om die rooilyn te verwyder self geskep. In Schlettwein se stukke wat hy ingedien het by die hof in antwoord op die saak, sê hy Amupanda het doelbewus met rou vleis by die Oshivelo-kontrolehek opgedaag en die veeartsenybeamptes gevra om dit te konfiskeer om sodoende die feite kunsmatig te skep om dié regsaksie te regverdig. Hy sê sedert 2005 het die maatreëls Amupanda nog nooit gepla nie en nou, soveel jaar later bring hy die aksie om die hof te misbruik omdat hy nie die doelwitte in die politieke arena kan bereik nie. Schlettwein sê dit is nie in openbare belang om die rooilyn te verwyder nie. Amupanda het verlede jaar op 26 Mei die saak in die hoërhof gebring nadat rou vleis by hom gekonfiskeer is.