Rooies vra Vrydag die hoërhof vir vrylating

Die oudlanddros Walter ‘Rooies’ Mostert, het ’n aansoek by die hof ingedien vir ‘n bevel wat hom van vervolging sal kwytskeld en sy vrylating sal waarborg. As gevolg van die aansoek in die hoërhof, is sy streekshofsaak tot 30 Januarie volgende jaar uitgestel en die aansoek in die hoërhof sal volgens berigte Vrydag aangehoor word. Mostert sê sy arrestasie en aanhouding is ongrondwetlik. Hy hou steeds voet by stuk dat die lasbrief wat gebruik is om hom in Mei verlede jaar in hegtenis te neem nie deur ‘n landdros onderteken is nie en dus, is enige optrede daarna onwettig. Mostert is in 2015 in hegtenis geneem op klagte wat geldwassery, afpersing, bedrog en pogings tot regsverydeling insluit. Dit handel oor die Namibiese burgerskap van ‘n Suid-Afrikaanse gesin. Hy het op 6 November vanuit die Auas Hill-hospitaal in Windhoek ontsnap en is weer in Maart vanjaar naby Tses in hegtenis geneem toe hy probeer het om Namibië weer vanuit Suid-Afrika binne te kom. Hy word tans by die Windhoek Sentrale Gevangenis aangehou.