Rondloper-leeuwyfie met satelliet-nekband toegerus

Nadat die Namibiese omgewingsministerie vakansiegangers by die kus vermaan het om versigtig te wees vir woestynaangepaste leeus in die omgewing van Torrabaai, het die Woestynleeu-bewaringstrust ‘n leeuwyfie met ‘n satelliet-nekband toegerus. Woestynleeu-navorser dr. Philip Stander monitor die leeus voortdurend langs die kus, veral tydens die feesseisoen. ‘n Uitgebreide soektog is regdeur die gebied van die Obab-leeutrop uitgevoer en uiteindelik het hy spore in die Uniabrivier gevind. Stander het die leeuwyfie met ‘n pylgeweer verdoof en met ‘n satelliet-halsband toegerus. Hy sê as deurlopende navorsing sal die leeuwyfie nou ook fyn dopgehou word om die verhouding seekos in haar dieet te bepaal.