Roger Federer speel Vrydag sy laaste wedstryd

 Tennis: Die Switserse meester, Roger Federer, beskryf sy deelname aan die naweek se Laverbeker-toernooi as ‘n droom wat waar geword het, want hy gaan die sport vaarwel toeroep terwyl hy saam met Rafael Nadal, Novak Djokovic en Andy Murray speel. Hulle is almal deel van Span Europa in die jaarlikse kompetisie wat op Londen se O2-arena gespeel sal word. Federer beplan om Vrydag sy laaste mededingende wedstryd saam met Nadal in die dubbelspel teen Span Amerika te speel. Die 41-jarige wenner van 20 Grand Slam-titels beskryf sy uittrede as emosioneel, maar sê dit is hoog tyd.