Rehoboth sleep Chinese myn hof toe oor beweerde wanbetaling
Die Rehoboth-dorpsraad en Africa Huaxia Mining is besig om oor ‘n skikkingsooreenkoms te onderhandel nadat die Chinese maatskappy hof toe gesleep is weens beweerde agterstallige huur van 3,212 miljoen Namibiese dollar wat dateer van Februarie 2010 tot April verlede jaar. Volgens die dorpsraad is die huur per maand 22 000 dollar en ‘n elektrisiteitsrekening byna 8,6 miljoen dollar vir Junie 2011 tot Januarie 2018 moet ook vereffen word. Die raad soek ‘n bevel wat die maatskappy sal verplig om die skuld te betaal teen ‘n rentekoers van 20 persent per jaar vanaf Maart 2010 tot die finale datum van betaling. Die dorpsraad wil ook hê dat Africa Huaxia sy perseel by die Swartmodder-kopermyn, wat 25 745 hektaar groot is, moet ontruim. Adjunk-regter-president Hosea Angula het vandag die saak tot 12 September uitgestel vir ‘n statusverhoor.