Registrasie van aanloopbane sal katastrofies wees

Die Vliegtuigeienaars- en Vlieëniersvereniging van Namibië, bekend as AOPA, het kritiek uitgespreek teen die voorgenome implementering van nuwe konsepregulasies deur die Namibië Burgerlugvaartowerheid dat vliegvelde en landingstroke in die land geregistreer moet word. AOPA sê dit sal verreikende negatiewe gevolge vir die lugvaartbedryf asook toerisme en gesondheidsorg in afgeleë gebiede inhou. ‘n Vergadering is tussen belanghebbendes gehou oor die gewysigde Deel 139 wat reeds in 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is. Dit sou aanvanklik op 1 Januarie 2019 in werking getree het, maar ná verskeie uitstelle is 1 Oktober 2022 vir inwerkingtreding bepaal. Die doel van die regulasies is om alle lughawens en vliegvelde in ooreenstemming met regulasies van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie te registreer. Dit raak sowat 860 vliegvelde en private landingstroke landswyd, waarvan minstens 96 gereeld deur die plaaslike lugvaartbedryf benut word. AOPA sê die gevolge is dat die vliegvelde nie gebruik kan word sonder ’n nuwe permit nie. Daarvoor sal ’n landmeter opnames moet doen en kaarte sal saam met ’n lugvaartkundige opname ingedien moet word. Die eienaar sal moontlik ook ’n omgewingsimpakstudie moet doen. Die koste implikasies is massief.