Regering stel New Era aan om kus-huise te voltooi

Plaaslike berigte lui dat die regering die Chinese boumaatskappy, New Era Investments gekontrakteur het om die laaste 312 huise aan die kus, wat deel vorm van die massa-behuisingsprojek te voltooi. Die kontrak, destyds ter waarde van 173 miljoen Namibiese dollar, is reeds in 2013 aan Ferusa Capital, wat aan die broers Thobias en Nelson Akwenye behoort, toegeken. Ferusa het toe subkontrakteurs gebruik, wat New Era Investments en Desert Paving and Construction ingesluit het, om die huise te bou maar, het hulle nie betaal nie en nou staan die projek, van 505 huise, sedertdien stil omdat daar ‘n hofgeding tussen die partye is. In 2020 het die regering gesê hy sleep op sy beurt Ferusa hof toe oor die mislukte projek.