Ramaphosa sê komende verkiesing gaan oor basiese behoeftes

Suid-Afrikaanse President Cyril Ramaphosa sê die komende plaaslike regeringsverkiesing gaan oor mense se basiese behoeftes. Dit sluit in die beskikbaarheid van water en elektrisiteit, hospitale en klinieke wat behoorlik funksioneer, en veiligheid en sekuriteit. Suid-Afrikaners sal hul stemme op 1 November uitbring vir meer as 94 000 kandidate. Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief die Covid-pandemie het die land se ekonomiese situasie aansienlik verswak. Hy sê as inwoners die land weer op sy voete wil kry, moet bekwame en opgelei mense met ondervinding, en wat veral eerlik en betroubaar is, aan die stuur van sake wees.