Renosters in Botswana weens stropery uit Okavango Delta verskuif

Owerhede in Botswana het begin om renosters uit die Okavango Delta-gebied te verwyder na ‘n skielike toename in stropery. Daar is 92 diere in die afgelope twee jaar gestroop teenoor net sewe vanaf 2010 tot 2018. Die diere word na bewaringsgebiede regoor die land verskuif. Volgens Kabelo Senyatso, die buurland se direkteur van nasionale parke, sal hulle vir ‘n paar jaar in die gebiede aangehou word om daar die renosterbevolking ‘n hupstoot te gee. Botswana se renosters is amper in die vroeë 1990’s uitgewis maar bewaringsprogramme het die diere se getalle laat toeneem. Die land maak nie die bevolking se syfers bekend nie, om hulle van stropers te beskerm.