Ramaphosa bekommerd oor onlangse moordpogings

President Cyril Ramaphosa is bekommerd oor onlangse moordpogings op twee mense wat bekend is vir hulle aktiewe stryd teen korrupsie. Die uittredende uitvoerende hoof van Eskom, André de Ruyter, het onthul dat iemand by die werk sianied in sy koffie gesit het, terwyl die visekanselier van die Universiteit Fort Hare, Sakhela Buhlungu, se lyfwag verlede week buite sy huis doodgeskiet is. Buhlungu het Ramaphosa gevra om sy veiligheid te verseker. Die President het aan die media gesê dit is uiters kommerwekkend dat mense wat sterk standpunt inneem oor integriteit en korrupsie, só geteiken word.