Rafah-aanval dood 35 burgerlikes

Minstens 35 mense is dood toe Israel ʼn kamp vir ontwortelde mense in Rafah, Gaza, aangeval het. Dit volg nadat onderhandelinge oor ʼn skietstilstand tussen Israel en Hamas ʼn dooiepunt bereik het. Die Israelse weermag sê sy lugmag het ‘n Hamas-vesting getref en die operasie is uitgevoer met presisie-ammunisie en gebaseer op presiese intelligensie. ʼn Senior Hamas-amptenaar, Sami Abu Zuhri, beskryf die aanval as ʼn slagting en sê Amerika is verantwoordelik omdat hy Israel met geld en wapens bystaan.